Die groot Afrikaanse familienaamboek
Cornelis PamaDie Groot Afrikaanse Familienaamboek – C. Pama
Reeds vanaf die stigting van die nedersetting aan die Kaap in die middel van die sewentiende eeu was daar onder die bewoners ‘n sterk gevoel vir familieverband. Met die groei van die Afrikanernasie het hierdie familiegevoel en ‘n intense belangstelling in die voorgeslagte en hul herkoms steeds sterker geword. Die familiebewuste Afrikaner soek daarom noukeurige antwoorde op vrae soos: Wat beteken my van? Het ons ‘n familiewapen? Hoe lyk dit?
Die Groot Afrikaanse Familienaamboek is die eerste publikasie wat die Afrikaanse leser in band op maklik verstaanbare wyse en sonder ingewikkelde genealogiese tabelle alle inligting gee oor die betekenis van sy van, die naam van sy stamvader en sy herkoms, wanneer hy in Suid-Afrika aangekom het, wat sy beroep was, met wie hy getroud was, en nog baie meer. Sowat 3 000 Afrikaanse families word in hierdie omvattende en gesaghebbende werk bespreek.
Daarbenewens word sowat 450 wapens in volle kleur afgebeeld, met ‘n volledige beskrywing van elke wapen, asook afdrukke van die handtekeninge van sowat 350 stamvaders soos dit op argivale dokumente verskyn. Die boek se waarde word verhoog deur ‘n uitgebreide inleiding oor die herkoms van vanne en familiewapens, oor die egtheid van wapens, en hoe om ‘n wapen te laat registreer.